Onbesonge Helde: Versorgers en maatskaplike werkers se rol in die bemagtiging van sorgbehoewende kinders in alternatiewe sorg
Agter elke bemagtigde, eens kwesbare kind in alternatiewe sorg, staan ’n toegewyde, deernisvolle versorger en maatskaplike werker. Hierdie onbesonge helde speel ‘n deurslaggewende rol in die hervorming van lewens, een kind op ‘n slag. In hierdie artikel skyn ons die kollig op die merkwaardige werk van ons versorgers en maatskaplike werkers wat noodsaaklike ondersteuning bied aan die kinders van Abraham Kriel Bambanani en veral hulle belangrike rol ten opsigte van die kinders se geestesgesondheid.
In ’n wêreld vol uitdagings kom sorgbehoewende kinders in alternatiewe sorg dikwels voor unieke emosionele struikelblokke te staan. Die afwesigheid van ouerlike sorg en die ervaring van verlies en trauma kan ‘n groot impak op hul geestelike welstand hê. Agter die glimlagte van hierdie kinders lê versteekte littekens – die emosionele wonde wat dikwels nie raakgesien word nie. Hierdie jong siele, wat reeds die storms van verlies en verlating deurstaan het, is besonder kwesbaar vir ‘n magdom geestesgesondheidsuitdagings. Dit is noodsaaklik dat hulle die liefde en ondersteuning ontvang wat nodig is om hierdie uitdagings te oorkom, in ‘n liefdevolle en veilige omgewing.
“Toe ek die eerste keer by Abraham Kriel Bambanani begin werk het, het ek hierdie kinders so jammer gekry en ek wou hul probleme oplos, maar met die jare het ek besef dit wat ek vir hulle doen, is goed. Hulle begeer, liefde en aandag, iemand om hulle te voed en soggens skool toe te sien en iemand wat hulle saans in die bed sal sit. Basies wil hulle ’n ma hê, en dit is wat ek vir hulle is.”- Tannie Magriet, Huismoeder.
My werk is om na hierdie kinders om te sien, maar dit is nie eintlik werk nie, dit is iets spesiaal wat God vir jou gee.”- Tannie Virginia, Huismoeder.
Thandi* is een van die kinders wat onvoorwaardelike liefde en ondersteuning van haar versorger/huismoeder en maatskaplike werker ervaar het. Thandi* is van geboorte tot op datum in die sorg van Abraham Kriel Bambanani (Maria Kloppers kampus). Sy is tans in haar matriekjaar en is onlangs deur haar Hoërskool bekroon met die Pro Fortitudine toekenning. Hierdie prestasie word toegeken aan die leerder wat sterk karakter, veerkragtigheid en deursettingsvermoë getoon het. Vir Thandi* is dit bewonderenswaardig aangesien sy met menigte struikelblokke en uitdagings, veral met betrekking geestesgesondheid gekonfronteer is. Sy het haar ma op ‘n baie jong ouderdom verloor en dit was dikwels vir haar moeilik om te aanvaar dat sy sonder die ondersteuning van ‘n biologiese gesin moet groot word. Haar onbeantwoorde vrae het bygedra tot ‘n lae selfbeeld en selfwaarde, wat sy soms op ‘n onkonvensionele manier probeer verbloem het. Ten spyte hiervan het sy veerkragtigheid getoon en sien sy uit na die moontlikhede wat die lewe bied. Thandi is vasbeslote om haar eindeksamen goed te slaag en droom van ‘n loopbaan in drama.
Na aanleiding van ‘n vraag oor die rol van haar huismoeder en maatskaplike werker in haar lewe, het Thandi die volgende te sê gehad…
“Tannie Beverly (huismoeder) het my uitkyk op die lewe verander. Sy het my laat glo dat God my nog altyd liefgehad het. Tannie Esther het altyd in my geglo en meer vir my omgegee as enige iemand ooit. Hulle het my gemaak wie ek vandag is. My rolmodelle en my lig, my helde. My maatskaplike werkers het my geleer om sterk en moedig te wees. Hulle het my voorberei om die wêreld in die oë te kyk en te wees wie ek wil wees” – Thandi.
Abraham Kriel Bambanani bedank elke versorger en maatskaplike werker vir hul meedoënlose werk om ons kinders op te hef en te bemagtig. Ons waardeer veral hul onwrikbare toewyding en sensitiwiteit vir die geestesgesondheid van die kinders in ons sorg. In die omhelsing van liefdevolle versorgers en maatskaplike werkers vind ons kinders vertroosting, hoop en genesing.
*Nie haar regte naam nie